OPLEIDING – Vrae & Antwoorde


Soos reeds genoem is daar ses belangrike vrae wat jy moet kan beantwoord sodra jy die besluit geneem het om verder te studeer. Hierdie vrae is:

WAAROM wil ek studeer?

Die eerste vraag wat ons jou gevra het om te oorweeg, is waarom jy wil studeer. Dit is ‘n baie belangrike vraag en ons hoop dat jy genoeg tyd sal neem om dit te beantwoord. Het jy geweet dat die rede waarom jy wil studeer ‘n invloed kan hê op hoeveel sukses jy met jou studies behaal? Hier is ‘n paar algemene redes waarom mense besluit om verder te studeer:

  • Omdat jy deur ‘n ouer of eggenoot geforseer word;
  • Omdat jy geen ander opvoedkundige kwalifikasies het nie;
  • Omdat jy jou kwalifikasies moet verbeter om vir bevordering in aanmerking te kom;
  • Omdat jy jou kwalifikasies moet verbeter om vir ‘n salarisverhoging in aanmerking te kom;
  • Omdat jy ‘n relevante kwalifikasie nodig het om jou in staat te stel om ‘n loopbaanverandering te maak;
  • Omdat jy verveeld raak met jou huidige beroep en dat jy graag iets heeltemal anders wil oorweeg;
  • Omdat jy tyd tot jou beskikking het en graag die tyd op ‘n produktiewe wyse wil gebruik;
  • Omdat jy werkloos is en jy weet dat ‘n goeie opvoeding jou kanse om ‘n werk te kry aansienlik sal verbeter.

Tensy jy ‘n goeie rede het waarom jy wil studeer, sal jy waarskynlik nie die wilskrag en motivering hê om ‘n sukses daarvan te maak nie. Aangesien jy heelwat geld en tyd hierin sal belê, moet jy regtig geïnspireerd en gedrewe wees om verder te studeer. As jy om die regte redes in jou opvoeding wil belê, sal jou kop reg ingestel wees om jou potensiaal te bereik!

WAT wil ek studeer?

Weet jy wat jy wil studeer? Daar is baie opleidingsentrums of kolleges en honderde kursusse om uit te kies, maar hoe weet jy watter keuses die beste is? Maak seker dat jy mooi oor jou persoonlike belangstellings en loopbaandoelwitte nadink, want dit sal ‘n goeie aanduiding wees van watter rigting jy behoort te volg.

Wat jy wil studeer sal ook beïnvloed word deur waarom jy wil studeer. Gestel jou baas sê vir jou dat jy ‘n spesifieke kwalifikasie nodig het om bevorder te word, dan weet jy reeds watter spesifieke kursus jy moet voltooi, en dit sal dan jou dryfveer wees. Indien jy pas klaar is met skool en graag ‘n loopbaan wil nastreef waarvoor sekere kwalifikasies ‘n vereiste is, dan weet jy watter kursusse om te oorweeg en waarom dit belangrik is.

Wanneer jy by ‘n kollege of opleidingsentrum navraag doen, moet jy ook seker maak of hulle jou enige bystand sal bied in die keuse wat jy ten opsigte van ‘n studieprogram moet maak! Die belangstellingsvelde is ongelooflik wyd en daar is eindelose moontlikhede wanneer dit by die seleksie van kursusse kom. Voordat jy ‘n kollege of opleidingsentrum kan kies, moet jy eers ‘n goeie idee het van waarheen jy oppad is, aangesien verskillende kolleges of opleidingsentrums in verskillende programme spesialiseer. Om dinge vir jou makliker te maak het ons die volgende studievelde geïdentifiseer:

  • Berading
  • Bsigheidstudies
  • Boekhou en Rekeningkunde
  • Dekor- en Ontwerp
  • Finansiële Bestuur
  • Forensiese Wetenskappe
  • Fotografie
  • Geleentheidsbestuur
  • Grafiese Ontwerp
  • Kinderdagsorg
  • Kreatiewe Skryfwerk
  • Menslike Hulpbronbestuur
  • Polisiëring
  • Projekbestuur
  • Radio- en Klankingenieurswese
  • Rekenaarstudies
  • Sekretariële studies
  • Speurwerk
  • Sport en Fiksheid
  • Tegniese studies
  • Toerisme
  • Tuinontwerp
  • Webontwerp

Sodra jy jou opsies oorweeg het en die moontlikhede kon verminder, word dit baie makliker om ‘n kollege of opleidingsentrum te kies wat aan jou behoeftes sal voldoen.

WAAR wil ek studeer?

Waar jy wil studeer is nóg ‘n belangrike faktor wat jou keuse sal beïnvloed. Dié vraag het nie slegs op die fisiese ligging van die kollege of opleidingsentrum betrekking nie, maar ook op die tipe leer wat dit aanbied, die kwalifikasies wat daar verwerf kan word en die reputasie wat dit in akademiese kringe het.

Die vraag van watter kollege of opleidingsentrum die beste keuse is, is ‘n besluit wat baie navorsing sal verg. Moenie bloot by ‘n akademiese instelling inskryf net omdat dit ‘n naam is waarvan jy al gehoor het óf omdat jy dink dat dit goeie kursusse aanbied nie.
Doen altyd navorsing!

‘n Mens moet nooit die waarde daarvan onderskat om navorsing oor ‘n kollege of opleidingsentrum se reputasie te doen nie. As ‘n akademiese instelling baie ongelukkige studente het, sal jy waarskynlik nie daar wil registreer nie – met goeie rede!

Wat het ander studente oor die kollege of opleidingsentrum te sê? Moenie jou besluit op net twee mense se opinies grond nie – kry ‘n klomp menings, veral van mense wat reeds ervaring met daardie kollege of opleidingsentrum het. Dikwels is die beeld wat advertensies of plakkate van ‘n kollege of opleidingsentrum skep baie misleidend. Jy moet nie slegs kennis van die goeie dinge van ‘n kollege of opleidingsentrum dra nie, maar ook van die slegte dinge.

Besoek www.hellopeter.com en kyk watter reputasie die kollege of opleidingsentrum het waarin jy belangstel. Indien ‘n kollege of opleidingsentrum sy studente sleg hanteer, sal hulle beslis op www.hellopeter.com kla en jy sal kan sien waaroor hierdie klagtes handel. Hierdie webwerf sal dit ook vir jou maklik maak om te sien of daardie spesifieke kollege of opleidingsentrum goed met sy studente kommunikeer. Jy moet byvoorbeeld weet of hulle op e-posse, navrae, klagtes, ens. reageer en of hulle jou bloot in die lug laat hang nadat hulle jou registrasie- en kursusfooie ontvang het! Hierdie inligting behoort op www.hellopeter.com te verskyn.

Voordat jy by ‘n kollege of opleidingsentrum inskryf, moet jy ook hul akkreditasie- en registrasiebesonderhede nagaan. Word die kursus waarin jy belangstel deur formele instellings goedgekeur en erken? Indien jy ‘n voorbeeld wil hê van hoe ‘n kollege of opleidingsentrum se akkreditasie behoort te lyk, gaan na http://www.collegesa.co.za/our-accreditation.html. College SA gee ‘n goeie en duidelike verduideliking van hoe akkreditasie en registrasie werk. Hulle gee ook vir jou die Departement van Onderwys se kontakbesonderhede sodat jy die registrasiebesonderhede van ‘n kollege of opleidingsentrum kan nagaan.

Laastens moet jy ook seker maak dat daar geen versteekte kostes is wanneer jy inskryf nie, want dis aaklig om later onaangename verrassings te kry. Kry vooraf ‘n lys van al die fooie wat jy moet betaal sodat jy jou finansies deeglik kan beplan.

Wanneer ons na die kwalifikasies kyk wat verwerf kan word, wil ons graag hê jy moet nadink oor watter tipe kwalifikasie jy nodig het. Benodig jy ‘n sertifikaat, ‘n diploma, ‘n gevorderde diploma of ‘n graad? Nie alle akademiese instellings bied dieselfde vlak van kwalifikasies aan nie, so jy moet seker maak of jy vir ‘n volle kwalifikasie of ‘n kort kursus moet inskryf, aangesien jy baie tyd en geld in jou studies sal belê.

Die tipe leer waarna ons verwys het betrekking op die kollege of opleidingsentrum se studiemetode. Jou twee hoof keuses is voltydse of deeltydse studie en afstandsleer:

  • Voltydse of deeltydse studie: Dié tipe leer behels klasbywoning en interaksie met dosente en ander studente op kampus.
  • Afstandsleer: Dié tipe opvoeding is ook bekend as tuisstudie, aangesien jy die vryheid en buigsaamheid het om te studeer wanneer en waar dit jou die beste pas. Jy hoef geen klasse by te woon nie en jy het die gerieflikheid om teen jou eie tempo te werk.

Beide hierdie tipes leer het natuurlik voor- en nadele, so om dinge vir jou makliker te maak, het ons die twee kortliks vergelyk:

VOLTYDSE    STUDIE

Voordele

Nadele

Jy het direkte kontak met jou dosent en klasmaats.

Jy sal nie tyd hê om voltyds te werk nie omdat jy daagliks klasse moet bywoon.

Jy kan aan klasgesprekke deelneem en ander studente se menings hoor.

Jy het minder vryheid omdat jy aan klastye en roosters gebind is.

Jy is gemotiveerd om te studeer omdat jy vir klastoetse of opdragte moet    voorberei.

Jy kan onaangename verrassings soos onafgekondigde toetse en take kry.

 

AFTANDSLEER

Voordele

Nadele

Jy kan ‘n voltydse werk hê omdat jy in jou vrye tyd studeer.

Jy het selfdissipline en motivering nodig om by jou studierooster te hou.

Jy kan deur middel van die internet met jou dosente kommunikeer.

Jy het toegang tot óf telefoniese óf elektroniese kommunikasie nodig.

Jy het baie vryheid omdat jy nie klasse hoef by te woon nie.

Jy sal nie met ander studente op ‘n kampus kan sosialiseer nie.

Vir ‘n lys kolleges of opleidingsentrums, kliek asseblief op die volgende skakel:

HOE LANK wil ek studeer?

Sal jy verkies om ‘n volle kwalifikasie te verwerf of is jy in kort kursusse geïnteresseerd? Die antwoord op dié vraag sal uit die aard van die saak afhang van die rede waarom jy wil studeer, siende dat dit van student tot student sal verskil. Iemand wat ‘n hoër kwalifikasie nodig het om vir bevordering in aanmerking te kom, sal waarskynlik ‘n volle kwalifikasie moet verwerf, terwyl iemand wat bloot vir selfverryking studeer maklik kort kursusse kan voltooi.

Nóg ‘n bydraende faktor is wat jy wil studeer, aangesien die volume werk van studieveld tot studieveld en kwalifikasie tot kwalifikasie verskil. Dis vanselfsprekend dat ‘n langer studietydperk betrokke is wanneer jy ‘n graad wil verwerf as wanneer jy ‘n sertifikaatkursus voltooi.

Hier is ‘n aanduiding van hoe lank dit normaalweg neem om elke kwalifikasie te voltooi:

  • Kort kursusse: Gewoonlik tussen 3 en 6 maande
  • Sertifikate: Gewoonlik 1 jaar
  • Diplomas: Gewoonlik tussen 1 en 2 jaar
  • Gevorderde Diplomas: Gewoonlik 2 jaar
  • Grade: Gewoonlik 3 jaar

LET WEL: Dié tydperke is bloot ‘n rowwe aanduiding en studietydperke kan van kollege to kollege verskil.

HOE gaan ek vir my studies BETAAL?

Het jy al aan die finansiële implikasies van jou studies oorweging geskenk? Dié aspek skrik dikwels voornemende studente af en dis baie keer een van die grootste struikelblokke om te oorkom. In die meeste gevalle – tensy jy ‘n beurs ontvang – moet jy self vir jou studies betaal. Die fooie wat jy sal moet betaal sluit die kollege of opleidingsentrum se fooie, registrasie fooie, eksamen fooie en ander diverse fooie in. So byvoorbeeld sal nie alle instellings jou met handboeke voorsien nie – hulle kan van jou verwag om self daarvoor te betaal. Netso behels sekere programme eksterne eksamens wat dus ook addisionele kostes sal behels.

Indien jy meer aandag aan die finansiële implikasies van jou studie wil bestee, kliek asseblief of die volgende skakel:

Het ek ONDERSTEUNING?

Steungroepie

Iets wat dikwels misgekyk word, is die rol wat vriende en familie speel. Dit sal tot jou voordeel strek indien jy familie en vriende het wat jou sal ondersteun en aanmoedig om ‘n sukses van jou studies te maak. Om te studeer verg baie tyd en toewyding, en dis menslik om soms fokus en motivering te verloor. Maak seker dat jy mense in jou lewe het wat jou sal ondersteun en ‘n hupstoot kan gee wanneer jy dit nodig het.

Studiekalender

‘n Studiekalender is ‘n wonderlike ondersteuningsmiddel omdat dit jou deurentyd herinner aan waarmee jy besig is en waarheen jy oppad is. Gebruik dit om registrasiedatums, eksamendatums, kollegevakansies en enige ander belangrike gebeurtenisse op aan te dui en sit dit op jou yskas of êrens in die huis waar almal dit kan sien. Dit sal dan terselfdertyd ook die ander mense in jou huis herinner dat jy met jou studies besig is en hulle sal waarskynlik meer tegemoetkomend wees wanneer hulle weet dat jy vir ‘n toets voorberei of dat jy gespanne is omdat jy ‘n opdrag moet voltooi.

Vorderingsplakkaat

‘n Vorderingsplakkaat is nóg ‘n sigbare ondersteuningsmiddel en, net soos die studiekalender, jy kan dit opsit waar almal in die huishouding dit kan sien. Deur jou vordering gedurende die jaar daarop aan te dui, sal jy jouself herinner aan wat jy reeds bereik het en wat nog vir jou voorlê. Wanneer jou familie en vriende dit sien, sal hulle jou gemotiveerd hou en aanmoedig om selfs beter te doen. As jy dié tipe ondersteuning het, sal jy beslis geïnspireerd bly!